Rolspelers in die sybokhaarbedryf het onlangs 'n nuwe onafhanklike makelaar, The House of Fibre, bekendgestel.
Wie is The House of Fibre?
The House of Fibre het hul eie perseel en is tans gereed om sybokhaar te ontvang. As 'n onafhanklike makelaar gaan hulle fokus op die sybokhaarboer, maar aangesien 90% van sybokhaarboere ook wol bemark sal hulle, as volledige makelaar, alle dienste lewer en ook wol bemark in opposisie met alle makelaars. "Dit is 'n baie groot geloofsprong vir ons, maar ons het geglo dat dit uiters nodig was na langdurige frustrasie. Ons doelwit is om terug te keer na die ou waardes van dienslewering wat van CMW so 'n suksesvolle makelaar gemaak het," het Pierre van der Vyver, algemene bestuurder van The House of Fibre, gesê.
The House of Fibre en BKB vat hande
Dié makelaarshuis het ook met verskeie ander maatskappye onderhandel om hul nuwe visie te rugsteun, sonder om onafhanklikheid in te boet. Hulle het met BKB ooreengekom om oorweging te skenk aan sentrale pakhuisbenutting om sodoende die nuwe sybokhaarfasiliteit optimaal te benut. "Ons keuse het geval op 'n diensverskaffer wat verskeie bykomende noodsaaklike dienste aan ons verskaf waaronder skeersdienste, 'n handelstakdiens en finansiering," het Pierre verduidelik. Hierdie ooreenkoms kan lei tot kostebesparing en die beste gebruik van die poel van kennis in die bedryf. Volgens Pierre bied The House of Fibre aan kliënte die kundigheid van onafhanklike personeel wat kan fokus om die nodige aanvoorwerk te doen en te verseker dat die sybokhaarboer gereed sal wees vir volhoubaarheid in RMS (Responsible Mohair Standards). Hulle beskik ook oor 'n wolbemarkingspan met internasionale kontakte wat hulle in staat stel om wol teen 'n eksklusiewe premie te verkoop. Die span is reeds gefokus op tegnologie en bemarking en dra die produsent se belange op hart. – Persverklaring, The House of Fibre