SAAD, WAT NOU GEDOEN?

Opgestel Pierre van der Vyver (The House of Fibre)

Konsultant – Piet Vivier

Goeie somerreën, veral vroeë somerreën (Nov-Jan), alhoewel dit noodsaaklik en welkom is, hou altyd `n potensiële gevaar in vir die sybokhaar. Weens die omslagtige en duur proses om saad te verwyder, kan verskille tussen die verskillende grade van saadbesoedeling geweldig wees. As voorbeeld kan die Somerseisoen van 2020 geneem word:

1.Kleinbokkiehaar (CFK)

Skoon  ± R520.00/kg

Ligte saad   ± R450.00/kg (verloor dus R70.00/kg)

Medium saad ± R390.00/kg (verloor dus ‘n verdere R60.00/kg)

Swaar saad ± R  110.00/kg (verloor dus `n verdere R280.00/kg)

2. Jongbokhaar (CFYG)

Skoon  ± R330.00/kg

Ligte saad   ± R290.00/kg (verloor dus R40.00/kg)

Medium saad ± R245.00/kg (verloor dus ‘n verdere R45.00/kg)

Swaar saad ± R  100.00/kg (verloor dus `n verdere R145.00/kg)

3. Grootbokke (CFH)

Skoon  ± R210.00/kg

Ligte saad   ± R190.00/kg (verloor dus R20.00/kg)

Medium saad ± R155.00/kg (verloor dus ‘n verdere R35.00/kg)

Swaar saad ± R70.00/kg (verloor dus `n verdere R65.00/kg)

Voorkoming is beter as genesing, alhoewel saadbesoedeling in baie gevalle onafwendbaar is. Hierdie voorkomings- en behandelingsproses is tydrowend en arbeidsintensief, maar as gevolg van prysverskille in die verskillende grade van besmetting, soos hierbo uiteengesit, is dit definitief die moeite werd.

Deel van die voorkomingsproses is `n basiese kennis van sade wat probleme veroorsaak:

Wortelsaadgras – Reageer eerste op goeie somerreën. Na ‘n kort tydperk van vestiging, word die saadjies binne `n week na lekker warm weer ryp. Hou diere dus in kampe wat alreeds bewei word, indien u sou skuif na ander kampe, gaan u swaar besmetting in veral die onderlyne optel.

Steekgras – Vat langer om te reageer. Na `n goeie somerreënseisoen sal dit `n gevaar begin raak. Beplan vroegtydig om sulke kampe te vermy. Daar kan ook gebruik gemaak word van drukbeweging deur beeste of nie-woldraende vleisrasskape om sulke sade te “absorbeer”. Na die eerste ryp of ‘n droë tydperk val sulke sade af en alhoewel besoedeling nog mag voorkom is die gevaar drasties minder.

Klitsgras – Een van die grootste gevare. Kom in die algemeen na goeie somerreën voor in veral leegtes en tussen en onder bome en struike. Juis as gevolg van sy groeipatroon is dit uiters moeilik om te bekamp. Weiding deur ander rasse help in `n mindere mate. Bestryding deur fisies die grasse te verwyder blyk die effektiefste te wees, maar kan in die meeste gevalle uiters tydrowend wees. Selfs al is die sade droog bly dit nog `n gevaar, maar die besoedeling is na `n lang tydperk (±9 mnde) minder en dalk makliker om te verwyder.
Oliebome, Wewenaars en Boetebos – Hierdie is vuilgoed wat in versteurde grond groei soos byvoorbeeld gronddamme en rivierlope. Haar wat deur die sade besoedel word het byna geen ekonomiese waarde nie, omrede boetebos met die behandelingsprosesse byna onvernietigbaar is. Dit is die boer se verantwoordelikheid om sy plaas skoon te hou van die vuilgoed.

Met hierdie kennis is dit noodsaaklik dat jy jou plaas dus reg moet bestuur en voordat jy bokke in `n kamp sit, so `n kamp eers deeglik sal inspekteer vir `n potensiële saadgevaar. Die maklike oplossing is natuurlik net om die diere in kampe te probeer hou byvoorbeeld ranteveld, waar daar nie saad is nie of in elk geval baie minder. Dit is egter doodgewoon nie altyd prakties uitvoerbaar nie. Indien jy nie jou diere in skoon kampe kan sit nie moet ons ook kyk na die ekonomiese waarde van die dier se haar. Ons weet almal dat bokkieshaar baie duurder is as grootbokhaar.

Waar jy dus van saadbesmette veld gebruik moet maak, oorweeg die volgende:

Probeer eers dat die grootbokke die meeste van die saad optel (gebruik as stofsuier) en sit dan later jou jongbokke of bokkies in die kamp. Waar veral jou jongbokke of bokkies reeds 3 of 4 maande haargroei het en skoon is, oorweeg dit om bokkies in `n skoonplek te voer, of skeer liewers 4 maande skoonhaar as 6 maande saadbesoedelde haar af. Indien jy klaar saadbesoedeling opgetel het is die volgende praktiese wenke van toepassing:

1.Groen saad (droë vee)

Waar saad nog groen is, dip in enige middel, selfs skoon water is ook voldoende, ± 6 weke voor skeer. Hoe meer jy dip voor skeer, hoe beter. Dit versnel die verrottingsproses van die saad.
± 14 dae voor skeer, breek gekoekte haar op die bok met die hand en dip weer na behandeling met `n middel om hantering te verbeter en los saad te verwyder.

2.Ryp saad (droë vee)

Saad wat alreeds ryp geword het, word gebreek ± 6 weke voor skeer en dan gedip in `n wasmiddel.
Dip vir die tweede keer ± 14 dae voor skeer.

In hierdie tydperk moet diere weggehou word van saad in byvoorbeeld leegtes (waar veral klitsgras voorkom). `n  Wenk is juis om die diere te plaas in struikveld byvoorbeeld granaatveld, om te help met die uitkamproses.

3.Dragtige vee

Die proses soos hierbo beskryf kan ook aangewend word vir dragtige diere. Dit moet egter onthou word dat swaar dragtige diere baie sensitief is vir hantering, in besonder die dipproses. Om `n kleinbokkie aan te kry is dus dalk beter as `n volwasse dier met `n skoon vag. Dragtige diere moet dus liewer in die “skoner” kampe aangehou word wat dikwels beteken die kampe met minder kos. Hier moet bykomende voeding sterk oorweeg word. Diere kan selfs, as die toestande dit regverdig, in kraaltoestande aangehou word met voer.

Die klassering van saadhaar

Die belangrikste eienskappe om te onthou met klassering van sybokhaar wat in sy totaliteit besmet is met saad is die volgende:

Fynheid – Hou ouderdomsgroepe uitmekaar byvoorbeeld grootbokhaar, jongbokhaar en kleinbokkiehaar.  Elke ouderdomsgroep word weer in twee verdeel naamlik `n sterk en `n fyn lyn. In die winter kan oorsterk jongbokke by die grootbokke getipeer word en oorsterk kleinbokkies by jongbokke.

Lengte – Saadbesoedelde haar word hoofsaaklik net in twee lengtes verdeel naamlik lank en kort. Met lang saadhaar word bedoel alle lengtes vanaf C-lengte en langer, met ander woorde 100mm en langer. Kort saadhaar is D en E lengtes, met ander woorde 50-100mm.

Graad van besoedeling – Nadat die lyne volgens fynheid en lengte verdeel is moet dit ook in drie grade van besoedeling verdeel word byvoorbeedl lig, medium en swaar. Hier volg ‘n beskrywing van die graad van besoedeling:
Moeite moet eerstens gedoen word om alle moontlike skoon haar, daar sal noodwendig hier en daar `n saadjie wees, te red. Belangrik is egter dat hierdie haar met `n saadfout nie verwar moet word met ‘n ligbesoedelde saadlyn nie. Die toets hier is as jy `n handvol haar vat en jy voel op meer as 2 of 3 plekke saad, dit wel `n ligte saadtipe is en nie net `n tipe met ‘n saadfout nie. ‘n Medium saadtipe het noodwendig meer saad in, maar het nog nie gekoekte haar in nie. Die swaar tipe saad bevat al die gekoekte haar.

Wenke

Met al die grade van besoedeling in sybokhaar kan nog steeds verdere moeite gedoen word om die graad van besoedeling te verminder.

Met ‘n ligte besmetting kan saad nog fisies probeer verwyder word, al pluis die haar in die proses uit, liewers gepluisde skoon haar, as saad haar. Swaar gekoekte haar, kan die koeke ook gebreek word en uitmekaar getrek word. Dit sal die tipe verbeter. (Moet asseblief nie die haar deur ‘n hamermeul gooi nie! Dit is ‘n ouvrou storie, die haar word net meer beskadig, nie verbeter nie.).
Daar bestaan nie ‘n masjien wat saadhaar meganies verwyder sonder groot breekskade nie. Sulke haar word duidelik uitgeken. Geen kopershuis sal ook haar van ‘n enkel skeersel chemies behandel en skoonmaak nie. Dit is te min en onekonomies. Behalwe dat jy etlike ton benodig om so`n chemiese siklus die moeite werd te maak, sal die kopershuise (wat dié masjiene besit) enige winste wat so gemaak kan word, met reg vir hulle self toe-eien.
Daar is geen maklike, vinnige en goedkoop manier om swaar saadbesoedeling uit sybokhaar te verwyder nie, behalwe om die regte bestuursbeginsels toe te pas nie.